Sarie artikel: Hoe gemaak met ‘verkeerde’ maats?

(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)

deur Delia du Toit – 1 Junie 2015

Hoe gemaak met ‘verkeerde’ maats?

Dis natuurlik dat kinders hul grense gaan toets, maar jou dogter se ongeskikte kêrel of die vriendin met die te kort rokkie is dalk ’n probleem. Hoe identifiseer jy ‘verkeerde’ vriende en maak jy jou kind weerbaar teen groepsdruk?

Dis iets wat elke ouer vrees. Daardie dag dat jou tienerdogter tuis kom met ’n tatoe of ’n naeltjiering, pikswart gekleurde hare of selfs ’n pakkie sigarette. En as jy dit bevraagteken, sê sy: “Maar almal doen dit, Ma!”

Dan weet jy, dis amptelik: Nou tel Ma se opinie nie meer nie; jou kind se portuurgroep het oorgeneem. (En op die oog af is dit boonop die “verkeerde groep vriende” . . .)

Nicolé, ’n tuisbly-ma van Johannesburg, se eens voorbeeldige 15-jarige dogter het ’n jaar gelede begin ontaard in iemand wat sy nie herken nie. “Haar gedrag het verander. Sy wou al hoe meer saans uitgaan, selfs op weeksdae, en ons het baie vasgesit daaroor, veral toe sy begin redeneer dat ‘al haar maats se ouers’ dit toelaat. Sy het ’n tweede gaatjie in haar ore laat inskiet. Haarself in haar kamer toegesluit en dan vir ure klipharde musiek gespeel. En ek weet ek verbeel my nie dat sy soms na rook ruik nie . . .”

Hoewel haar dogter steeds goed presteer op skool, is Nicolé bekommerd dat haar punte dalk kan verswak, veral nadat sy gesien het dat haar dogter gereeld smiddae by die skoolhek kuier met ’n nuwe groep maats wat sy nie ken nie. “Gestel sy leer slegte gewoontes by hierdie nuwe (oënskynlik meer rebelse) vriende aan?”

Nicolé is heeltemal geregtig om so te voel, sê Riza van der Merwe, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. Soos kinders ouer word, raak hul portuurgroep vir hulle al hoe belangriker en vergroot die invloed wat hul maats op hulle het. Hierdie invloed is waarskynlik op sy grootste in ’n kind se tienerjare, wanneer kinders hulself afsonderlik van hul ouers begin definieer.

Boonop word dié invloed nou reeds op ’n jonger ouderdom belangrik – een 2013-studie deur die Universiteit van Maryland in die VSA wys groepsdruk is vandag al van selfs nege jaar oud af ’n probleem. “In Amerika word kinders al hoe vroeër ‘grootmense’ en hou hulle besig met die dinge wat volwassenes doen. Die Afrikaanse gemeenskap is meer beskut, maar ons sien tog hoe kinders deesdae al voor hul tienerjare só probeer inpas,” sê Anita DecairesWagner, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Vroeg Ryp

Sekere kinders is ook meer geneig om te swig voor groepsdruk. “’n Kind met ’n swak selfbeeld wat baie angstig is en ’n groot behoefte aan sekuriteit het (wat jy kan kry deur te voel jy behoort aan ’n groep), is meer weerloos teen portuurdruk,” sê Riza. “Omdat hulle onseker voel, wil hulle graag inpas. Kinders wat voel hulle word nie aanvaar soos hulle is nie, of wat by die huis emosioneel onseker is, is ook geneig om meer beïnvloedbaar te wees.”

Die meeste kinders begin op 14 sukkel met groepsdruk, wys ’n 2007-studie wat in Developmental Psychology gepubliseer is. Die navorsers sê dís wanneer hulle ook begin leer om groepsdruk teen te staan, en hul vermoë om dit te doen verbeter ook tot op omtrent 18.

’n Beïnvloedbare tiener gaan dus waarskynlik ook ’n beïnvloedbare volwassene wees. Dis daarom belangrik dat jou kind nou al leer hoe om groepsdruk te weerstaan. “Onthou, volwassenes swig ook – jy wil ook die nuutste kar hê, of sekere skoene dra,” sê Anita. “Dis ’n groepsdinamika, en jou kind is nie net hulpeloos nie. Jou optrede beïnvloed hom. Hy speel ook sy eie rol in sy portuurgroep en hy oefen dalk ook druk uit op ’n ander kind – bewustelik of nie.”

So ook speel kultuur (soos ’n kind wat grootword in ’n samelewing wat slankheid idealiseer), onderwysers (wat byna so ’n groot invloed op kinders se reaksie op groepsdruk het soos ouers self) en ekonomiese omstandighede (kinders voel dalk die druk om klere van bekende handelsmerke te dra) ’n rol in portuurdruk, sê Jenny da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. “In dieselfde asem gesê, sal ’n kind met ’n goeie selfbeeld en selfvertroue makliker voel hy word aanvaar en dus nie ingee onder druk nie, want hy het niks om te bewys nie.”

Navorsing wys kinders het ’n beter selfbeeld as hulle voel hulle kan maklik met hul ouers praat, maar dat daar tog reëls en dissipline tuis is.

As jy vermoed dat jou kind moontlik met die verkeerde soort maats begin uithang, moet jy beslis die situasie dophou. Maar moenie jou kind ooit verbied om ’n vriend te sien nie, wat net ’n Romeo en Juliet-situasie gaan veroorsaak.

Die belangrikste is om in goeie én moeilike tye seker te maak die kommunikasiekanaal tussen jou en jou kinders bly oop, sê Anita. Stel altyd belang in hul wêreld en stories, moenie neerhalend wees en aanhoudend preek nie, en bly kalm selfs as jy kwaad is.