Sarie artikel: Hoe gemaak met ‘verkeerde’ maats?

(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)

deur Delia du Toit – 1 Junie 2015

Hoe gemaak met ‘verkeerde’ maats?

Dis natuurlik dat kinders hul grense gaan toets, maar jou dogter se ongeskikte kêrel of die vriendin met die te kort rokkie is dalk ’n probleem. Hoe identifiseer jy ‘verkeerde’ vriende en maak jy jou kind weerbaar teen groepsdruk?

Dis iets wat elke ouer vrees. Daardie dag dat jou tienerdogter tuis kom met ’n tatoe of ’n naeltjiering, pikswart gekleurde hare of selfs ’n pakkie sigarette. En as jy dit bevraagteken, sê sy: “Maar almal doen dit, Ma!”

Dan weet jy, dis amptelik: Nou tel Ma se opinie nie meer nie; jou kind se portuurgroep het oorgeneem. (En op die oog af is dit boonop die “verkeerde groep vriende” . . .)

Nicolé, ’n tuisbly-ma van Johannesburg, se eens voorbeeldige 15-jarige dogter het ’n jaar gelede begin ontaard in iemand wat sy nie herken nie. “Haar gedrag het verander. Sy wou al hoe meer saans uitgaan, selfs op weeksdae, en ons het baie vasgesit daaroor, veral toe sy begin redeneer dat ‘al haar maats se ouers’ dit toelaat. Sy het ’n tweede gaatjie in haar ore laat inskiet. Haarself in haar kamer toegesluit en dan vir ure klipharde musiek gespeel. En ek weet ek verbeel my nie dat sy soms na rook ruik nie . . .”

Hoewel haar dogter steeds goed presteer op skool, is Nicolé bekommerd dat haar punte dalk kan verswak, veral nadat sy gesien het dat haar dogter gereeld smiddae by die skoolhek kuier met ’n nuwe groep maats wat sy nie ken nie. “Gestel sy leer slegte gewoontes by hierdie nuwe (oënskynlik meer rebelse) vriende aan?”

Nicolé is heeltemal geregtig om so te voel, sê Riza van der Merwe, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. Soos kinders ouer word, raak hul portuurgroep vir hulle al hoe belangriker en vergroot die invloed wat hul maats op hulle het. Hierdie invloed is waarskynlik op sy grootste in ’n kind se tienerjare, wanneer kinders hulself afsonderlik van hul ouers begin definieer.

Boonop word dié invloed nou reeds op ’n jonger ouderdom belangrik – een 2013-studie deur die Universiteit van Maryland in die VSA wys groepsdruk is vandag al van selfs nege jaar oud af ’n probleem. “In Amerika word kinders al hoe vroeër ‘grootmense’ en hou hulle besig met die dinge wat volwassenes doen. Die Afrikaanse gemeenskap is meer beskut, maar ons sien tog hoe kinders deesdae al voor hul tienerjare só probeer inpas,” sê Anita DecairesWagner, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Vroeg Ryp

Sekere kinders is ook meer geneig om te swig voor groepsdruk. “’n Kind met ’n swak selfbeeld wat baie angstig is en ’n groot behoefte aan sekuriteit het (wat jy kan kry deur te voel jy behoort aan ’n groep), is meer weerloos teen portuurdruk,” sê Riza. “Omdat hulle onseker voel, wil hulle graag inpas. Kinders wat voel hulle word nie aanvaar soos hulle is nie, of wat by die huis emosioneel onseker is, is ook geneig om meer beïnvloedbaar te wees.”

Die meeste kinders begin op 14 sukkel met groepsdruk, wys ’n 2007-studie wat in Developmental Psychology gepubliseer is. Die navorsers sê dís wanneer hulle ook begin leer om groepsdruk teen te staan, en hul vermoë om dit te doen verbeter ook tot op omtrent 18.

’n Beïnvloedbare tiener gaan dus waarskynlik ook ’n beïnvloedbare volwassene wees. Dis daarom belangrik dat jou kind nou al leer hoe om groepsdruk te weerstaan. “Onthou, volwassenes swig ook – jy wil ook die nuutste kar hê, of sekere skoene dra,” sê Anita. “Dis ’n groepsdinamika, en jou kind is nie net hulpeloos nie. Jou optrede beïnvloed hom. Hy speel ook sy eie rol in sy portuurgroep en hy oefen dalk ook druk uit op ’n ander kind – bewustelik of nie.”

So ook speel kultuur (soos ’n kind wat grootword in ’n samelewing wat slankheid idealiseer), onderwysers (wat byna so ’n groot invloed op kinders se reaksie op groepsdruk het soos ouers self) en ekonomiese omstandighede (kinders voel dalk die druk om klere van bekende handelsmerke te dra) ’n rol in portuurdruk, sê Jenny da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg. “In dieselfde asem gesê, sal ’n kind met ’n goeie selfbeeld en selfvertroue makliker voel hy word aanvaar en dus nie ingee onder druk nie, want hy het niks om te bewys nie.”

Navorsing wys kinders het ’n beter selfbeeld as hulle voel hulle kan maklik met hul ouers praat, maar dat daar tog reëls en dissipline tuis is.

As jy vermoed dat jou kind moontlik met die verkeerde soort maats begin uithang, moet jy beslis die situasie dophou. Maar moenie jou kind ooit verbied om ’n vriend te sien nie, wat net ’n Romeo en Juliet-situasie gaan veroorsaak.

Die belangrikste is om in goeie én moeilike tye seker te maak die kommunikasiekanaal tussen jou en jou kinders bly oop, sê Anita. Stel altyd belang in hul wêreld en stories, moenie neerhalend wees en aanhoudend preek nie, en bly kalm selfs as jy kwaad is.

Baba en Kleuter artikel: Monster-maatjie

(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)

deur Daniella de Witt – Oktober 2013

Dit voel asof jy in die aarde wil sink terwyl jy na jou kind se kleuterskooljuffrou luister. Hy het al weer ‘n maatjie gebyt. Hy het gister twee maatjies geslaan en gestamp, ander mammas begin nou kla en “ons moet regtig na die probleem kyk …”

Asof jy nie al moeg gestres daaroor is nie! Maar hoekom is jou peuter so aggressief?

Riza van der Merwe, ‘n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort in Gauteng,sê aggressie is ‘n normale emosie wat natuurlik by kinders voorkom en nie noodwendig verkeerd is nie.

“Dis wat ‘n kind doen as hy kwaad is, wat wel verkeerd kan wees,” sê sy. “Peuters wat byt, knyp of slaan se verbale vermoë het gewoonlik nog nie genoeg ontwikkel om aan hul frustrasie uitdrukking te gee nie. Hulle wys dus vir jou hoe hulle voel en vir hulle is die enigste uitdrukking aggressie.

“Kinders neig ook om hul ouers se hanteringsvaardighede na te boots en kan ook aggressiewe gedrag by hul ouers leer.”

Trauma en groot veranderinge in hul lewe kan peuters ook aggressief maak, sê Wietske Boon‘n spelterapeut van Centurion. Dit kan insluit dinge soos verhuising, ‘n nuwe baba in die gesin, egskeiding, konflik by die huis, die afsterwe van ‘n geliefde of wanneer die kind of gesinslede slagoffers van misdaad was.

Kinders beweeg deur verskillende fases en een daarvan is om te oorreageer, veral as hulle te na gekom voel wanneer ‘n maatjie byvoorbeeld ‘n speelding afneem, sê Wietske.

“Die aggressiewe gedrag is by sommige kinders egter van korte duur.”

Nog iets waarna jy moet oplet is dat kinders reageer volgens dit waaraan hulle blootgestel word.

“As hulle aan aggressiewe optrede blootgestel word of na gewelddadige TV-programme kyk, kan hulle hierdie aggressiewe gedrag op die speelgrond begin naboots.”

‘n Ander faktor is moegheid.

“‘n Kind wat moeg is, is moeilik,” sê Wietske. “‘n Kind wat te min slaap inkry, word ongeduldig met maats en kan uitbarstings kry.”

Sy sê die probleem met aggressiewe gedrag is dat een kind se aggressie veroorsaak dat ander kinders ook aggressief begin optree.

Hoe hanteer ek dit?

‘n Kind wat maatjies byt, stamp of slaan moet gedissiplineer word, sê Wietske. Probeer jou kind in die ander kind se skoene plaas. “Vra: ‘Hoe sal jy voel as jou maatjie jou byt? Sal dit vir jou lekker wees as ‘n maatjie jou skop?

Dis wel belangrik om vas te stel waarom jou kind so aggressief optree. Het daar veranderinge plaasgevind; is daar spanning by die skool of huis of ervaar hy vrees?

As daar ‘n rede vir sy gedrag is, moet dit behandel word. Soek professionele hulp indien nodig.”

‘n Ma se werk is om ervarings en gevoelens vir haar kind te medieer, sê Riza.

“Dit beteken jy moet dit vir jou kind in perspektief stel.Soms moet jy jou kind help om sy gevoelens te verwoord.

“Help hom om sy aggressie te beheer deur sy gevoel ‘n naam te probeer gee: ‘Jy lyk vir my kwaad of ongelukkig. Is dit omdat …?’

Gee vir jou kind‘n meer aanvaarbare manier om sy gevoelens uit te druk. Maak byvoorbeeld ‘n slaansak van ‘n plastieksak en bolletjies koerantpapier. Bind die sak toe en laat dit van die dak afhang.

Laat jou kind liewer die sak as sy boetie of sussie slaan of stel voor dat hy sy kussing slaan tot hy beter voel.

Dit kan ook help

Sosiale vaardighede kan voorkom dat kinders aggressief optree, sê Wietske. Sy gee nog raad:

Riglyne vir aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag met konsekwente dissipline verseker dat ‘n kind tussen reg en verkeerd kan onderskei en weet dat onaanvaarbare gedrag gevolge inhou.
Leer hom sy emosies ken en kommunikeer. Wys hom gesiggies met verskillende emosies en laat hy elkeen uitken. Vra hom wat hom hartseer, kwaad, gelukkig en bang maak. Vra hom hoe hy voel wanneer hy skool toe gaan, by ouma gaan kuier of seerkry.
Help kinders om sibbekonflik doeltreffend op te los. Dit skep ‘n veilige omgewing waarin hulle leer om konflik ook in ander situasies op te los.
Leer hom alternatiewe maniere om woede te kommunikeer. Leer hom om sy emosies eerder met woorde te kommunikeer: “Ek word kwaad as jy my speelgoed vat!”
Moenie jou kind persoonlik aanval deur te sê hy is ‘n lelike maatjie nie. Sê eerder:“Jou gedrag is nie mooi nie.”
5 planne vir peuters

Hou by logiese gevolge.As jou peuter‘n maatjie seermaak, neem hom uit die situasie en verduidelik dat hy weer kan saamspeel as hy nie ander kinders seermaak nie.
Bly self kalm. As jy skree en hom hardhandig hanteer, sal dit die situasie net vererger en ook ‘n slegte voorbeeld van konflikhantering stel. As jy kalm bly en jou humeur beheer, is dit ‘n les vir hom.
Stel duidelike grense. Moenie partykeer die probleem ignoreer as hy iets verkeerd doen en ‘n volgende keer weer heftig reageer nie. Hy moet sy gedrag met onmiddellike gevolge verbind. Wees konstant met dissipline en reageer elke keer dieselfde.
Beloon jou kind se goeie gedrag. Prys hom sodat dit lekker word om goed te doen.
Bied aan jou kind ‘n uitlaatklep.Gee hom genoeg kans om van opgekropte energie ontslae te raak, verkieslik buitenshuis.
Wenke vir Juffrou

Dis belangrik om duidelike opdragte aan jou kind se dagma of kleuterskoolonderwysers te gee oor hoe om hom te hanteer.

Wietske sê as ‘n kind sy maats by die kleuterskool seermaak moet daar dadelik gereageer word.

“Verwyder die oortredertjie uit die situasie en vra hom waarom hy so gereageer het. Kleuterskole behoort ‘n dissiplinestelsel te hê waarvolgens die kind gedissiplineer word. Laat die kind na sy maatjie teruggaan en om verskoning vra. Sou die gedrag voortduur, bespreek dit met die ouers om alternatiewe te oorweeg om sy gedrag te verander.

Riza sê ‘n mens moet die hele klas opsies gee vir as hulle kwaad is. “Sê byvoorbeeld: ‘As jy kwaad word, kan jy in die kwaai hoekie gaan op- en afspring (dit mag net in die kwaai hoek gebeur).Jy kan ook stadig drie keer in- en uitasem of tot 10 tel.” Dié gesprek moet gereeld herhaal en ingeoefen word. Dié opsies werk beter by ouer kinders, soos vyf- en sesjariges.

“Die doel is om die reaksietyd tussen die impuls om te byt of slaan en die aksie om te byt of slaan te verleng deur byvoorbeeld tot 10 te tel. Dit gee die kind ‘n beter kans om oor sy gedrag te dink en dit te beheer.

As hy reeds gebyt het, is dit belangrik dat hy bewus gemaak word daarvan dat dit nie reg is nie en om steeds sy gevoel te verwoord. Sê iets soos: ‘Jy het vir Tina gebyt omdat jy kwaad gevoel het. Dis verkeerd. Wat anders kan ‘n mens doen as jy kwaad voel? Jy kan in die kwaai hoek gaan spring of …”

My kind is die slagoffer

‘n Kind wat gebyt of op ander maniere afgeknou word, kan geleer word om hard te skree: Stop! “Dit sal die onderwyseres se aandag op die situasie vestig en moontlik die kind keer wat wil byt,” sê Riza. Die onderwyseres kan die situasie ontlont deur vir die byter te sê: “Jy lyk kwaad. Wat kan jy doen as jy kwaad voel? Kom tel tot 10 …”

Kommunikasie tussen ouers en kinders is baie belangrik, sê Wietske.

“Vra jou kind uit oor sy dag. As ‘n maatjie hom seergemaak het, kry soveel as moontlik inligting by hom. Bespreek dit met jou kind se onderwyseres. Hulle is nie altyd bewus wat oral op die speelgrond gebeur nie. Onthou ook dat elke storie twee kante het.”

Leer jou kind ook om met die oortreder oogkontak te maak, weg te loop en ‘n volwassene daarvan te gaan vertel of te wys waar hy seergekry het. As ‘n maatjie jou kind aanhou seermaak, kan jy probeer keer dat hulle speeltyd saamspeel en sorg dat jou kind met ander maats speel.

Aanhoudende afknouing kan ‘n kind minderwaardig laat voel, maan Wietske. “Wees daarom waaksaam en wys jou kind dat dit wat die maatjie sê nie waar is nie. As ‘n maatjie sê hy is ‘dom’, wys hom hoeveel dinge hy kan doen en regkry. ‘n Kind wat onskuldig afgeknou word, moet besef dat die maat se gedrag verkeerd is en dit nie sy skuld is nie.”

Vrouekeur artikel: Ma, dis tyd vir ‘n blaaskans

(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)

deur Lindi Herbst 06/05/2015

Elke ma moet asem skep. Ons kyk na hoe ma’s minivakansies kan vat in ons 22 Mei-uitgawe. Hier is nog wenke om ’n rustiger ma te wees

Maak tyd vir jouself, ter wille van jouself en jou kinders. “Selfsorg is ongelooflik belangrik vir verskeie redes: Kinders leer om mens te wees, hoe verhoudings behoort te wees en hoe om man of vrou te wees deur wat hulle hul ouers sien doen,” meen Riza van der Merwe, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Wes-Rand. “Daar is in die verhouding tussen ouer en kind meer as een persoon – ’n ma se behoeftes is dus ook belangrik. Hoe beter jy na jouself kyk, hoe beter sal jy in staat wees om aan jou kinders en jou eie behoeftes te voorsien.”

• Leer om “nee” te sê in plaas daarvan om almal te probeer tevrede hou – anders gaan jy in elk geval by niks uitkom nie.

• Vra hulp as jy voel jy kan nie meer bybly met alles nie. Daar is niks daarmee verkeerd om ’n huishulp te kry om huistakies te hanteer nie. Een of twee keer per week sal die wêreld se verskil maak – enige ma wat ’n huishulp het, sal vir jou sê dié ekstra uitgawe is beslis die moeite werd!

• Beplan ook ontspanningsaktiwiteite vir jouself. Maak beurte met jou kinders se vriende se ma’s om na mekaar se kinders om te sien, sodat julle elkeen ’n tydjie vir julself kan hê. Doen in hierdie tydjie dinge waarvoor jy nie normaalweg tyd kry nie – gaan kyk ’n fliek in die middag, laat jou naels doen of ontspan met ’n boek.

• Maak ook tyd vir jou en jou man om alleen te wees. Een van die boustene van ’n gesonde gesin is immers ’n sterk liefdesband tussen die ouers. Maak gebruik van ’n vriendin of een van jul ouers se aanbod om na die kinders te kyk en gaan op ’n date. Dit kan ’n uitspattige ete wees waar julle mooi moet aantrek of dit kan ’n aand van prettige aktiwiteite wees wat julle jare gelede gedoen het, soos kegelbal of minigholf.

• Moenie ’n superma probeer wees wat die huis netjies moet hou, kos maak, met huiswerk moet help en kinders moet rondry nie. Gee van jongs af die kinders takies om te doen en betrek hulle by die maaltydvoorbereiding en opruiming. En moenie perfeksie van hulle verwag nie – jy gaan net onnodige spanning op jouself plaas en jou kind gaan voel sy is nooit goed genoeg nie.

• Gebruik die tydjies wat jy moet wag tussen aktiwiteite om iets te doen waarvan jy hou. Kry ’n lekker koffiewinkel naby, of hou jou handwerk byderhand in die kar. Probeer om nie rond te jaag tussen aktiwiteite nie, want tyd in die verkeer is gemorsde tyd.

Sarie artikel: Dilemma! My tweede huwelik is vol komplikasies – DEEL 2

(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)

deur Delia du Toit – 8 Februarie 2016

Respek van die stiefkinders

My kinders respekteer hul stiefpa soos ’n eie pa, maar ek voel nie dieselfde word my gegun nie. Wanneer is ek ook ’n ouer, of bly ek ’n niks? Myne volg my én my man se reëls, maar syne volg net sy reëls en oefen dit ook nie altyd uit nie. Wanneer moet kinders uit die nes geskop word, en vir hoe lank is dit aanvaarbaar vir ’n kind om te studeer? “Skuld” jy die ander kind as een se kursus duurder is?

Riza Van Der Merwe, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg se raad

Ook hier is daar geen vaste finansiële reëls nie. Hoewel baie ouers deesdae hul kinders probeer onderhou totdat hulle klaar gestudeer het en/of ’n werk gekry het, is dit nie verpligtend nie. Dis eerder belangrik dat jy en jou man tot ’n vergelyk kom hieroor en dan ’n verenigde front is wanneer julle dié reëls vir die kinders verduidelik.

Jy en jou man moet oop en eerlik met mekaar gesels oor wat julle kan, en bereid is om te doen. Julle kan byvoorbeeld vier jaar se studies vir elke kind betaal, maar daarna moet hulle self verantwoordelik wees vir vakke wat herhaal word of die koste van verdere kursusse. As julle bereid is, kan julle daarna borg staan vir ’n studielening.Daarna skuld jy hulle beslis nie iets nie – dis ’n voorreg as ouers vir hul kinders se studies kan betaal, nie ’n reg nie.

Die feit dat jy voel jou man sekinders respekteer jou nie, is meer gekompliseerd. Kinders voel soms negatief teenoor die nuwe ouer omdat hulle ’n geheime (dikwels onbewustelike) droom koester dat hul ouers weer bymekaar sal uitkom, en die nuwe ouer word beskou as ’n hindernis vir dié droom. En wanneer ’n ouer gesterf het en kinders dit nog nie heeltemal verwerk het nie, kan hulle wrokkig voel teenoor die nuwe ouer. In albei gevalle kan hierdie gevoelens lei tot passiewe aggressie, soos om nie reëls te volg nie, en terapie word dan aanbeveel.

Maar jy hoef nie noodwendig óf ’n ouer óf niks te wees nie. Probeer eerder jou rol herdefinieer, veral omdat dit klink of sy kinders reeds jou rol as “ma” verwerp. Jy is dus nie stiefma nie, maar iemand wat hul pa gelukkig maak, hulle ondersteun, en met wie hulle kan praat sonder oordeel. Fokus op die dinge wat jy wel kan beheer. Gesels ook met jou man hieroor, want hy moet dit vir hulle dan duidelik maak dat die huisreëls vir almal geld en dat jy gerespekteer moet word.